Finale rondte van die SA KAMPIOENSKAPPE

deur Kobus de Wet

Die SAPSA kampioenskappe aangebied deur Excalibur Skietbaan

Die derde en laaste been van die SA Praktiese Pistoolskiet Kampioenskappe is vanaf 20 Oktober 2016 tot 23 Oktober 2016 op die Excalibur Skietbaan in Welkom gehou.

Die kampioenskappe Die finale rondte van die SA Kampioenskappe het uit 16 fases bestaan. Die fases het gewissel van 9 tot 32 rondtes met verskillende moeilikheidsgrade en veral die klein plaatjies het menige skut se spoed gebreek. Die skuts was egter meestal positief en het die kampioenskappe terdeë geniet Donderdagoggend is die kompetisie amptelik geopen deur die baanoffisiere wat geleentheid gekry het om eerste te skiet. Teen Vrydagmiddag was dit afgehandel waarna ’n langverwagte reënbui die stof afgewas het. Dit het egter chaos tot gevolg gehad, met ’n klomp van die bane wat Saterdagoggend oorstroom was. Noodwerkers is egter ingespan om gou weer die bane toeganklik en veilig vir die skuts en baanoffisiere te maak.

Omstreeks 09:00 was alles gereed en is die kompetisie in alle erns hervat tot 17:00 toe ‘n opvolg reënbui en swak lig die laaste aflosse belemmer het. Dié is egter weer teen Sondagmiddag ingehaal. Die kompetisie was ongeveer 16:00 Sondagmiddag afgehandel, waarna die onthaal en prysuitdeling om 18:00 begin het. Na die prysuitdeling het almal lekker geëet en opregte Vrystaatse gasvryheid geniet. Na ete is die nasionale spanne vir die “World Shoot” volgende jaar in Frankryk bekend gemaak.

Die Skietbaan

Excalibur Skietbaan is in die vroeë tagtigerjare gebou en was van die begin af een van die gunsteling en mooiste bane in Suid-Afrika. Aanvanklik het dit uit ses bane bestaan wat met verloop van tyd verbeter is en tans spog dit met 24 bane waarvan een ’n 300 meter baan is. Die baan was aanvanklik as ’n “combat”-baan gebou en is tans die tuiste van die Excalibur Praktiese Pistoolskiet Klub wat uit ongeveer 12 lede bestaan. Die bane is ook die tuiste van die SAJWV (SAHGCA) se Sandrivier-58 tak. Met 895 lede is SA Jag ’n baie aktiewe deel van die klub en word daar jaarliks verskeie provinsiale asook nasionale en internasionale skietkompetisies hier gehou. Die baan is ook die tuisgrond van 11 “Bench Rest” lede wat baie aktief deelneem aan verskeie kompetisies wat jaarliks aangebied word.

Bedankings

Namens Excalibur, baie dankie aan Sebella O’Donovan van SAPSA, Chrissie Wessels van SAIRO, die hoof baanbeampte en mnr Gerrit Dokter, die voorsitter van SAPSA, vir hul aandeel in hierdie suksesvolle byeenkoms. Dankie aan Pierre Burger en sy span vir hul harde werk vooraf om die bane asook die “Props” netjies en prakties te bou. Dankie aan die borge, AD Tactical, Spartan Arms International, Frontier Guns, RS Sport, Mediclinic Welkom asook ER24 vir hulle teenwoordigheid op die baan.

Skietuitslae:

Classic Johan Wheeler
Classic Senior Wayne Hammond
   
Open Thomas Montgomery
Open Senior Hubert Montgomery
Open Super Senior Andre Saaiman
Open Lady Susan Kriel
Open Junior James Shorten
   
Production Tristan Hopper
Production Senior Malcolm Christie
Production Junior Jacobus Briers
Production Lady Karen Shawe
   
Standard Justin Peacock
Standard Senior Sean O'Donovan
Standard Super Senior Kobus de Wet
Standard Junior JC Potgieter
Standard Lady Eurika du Plooy

Prysuitdeling

Tydens die prysuitdeling wat Sondagaand by Digger’s Inn plaasgevind het, is medaljes aan die afdeling wenners en die algehele wenners in elke kategorie oorhandig. Die Suid Afrikaans kampioene vir 2016 is hierna bekend gemaak. Die aand is afgesluit met die bekendmaking van die Nasionale span wat Suid Afrika vanaf 23 Augustus tot 3 September 2017 in Chateauroux, Frankryk in die IPSC handwapen wêreld skietkompetisie sal verteenwoordig. Die groep van 48 lede, wat aan baie streng vereistes moes voldoen, is tot dusver die grootste groep wat nog gekies is om Suid Afrika te verteenwoordig. Ons wens hulle stertkte toe met die voorbereiding en die kompetisie

Last modified on Wednesday, 07 December 2016 10:09
  • BLOG_RATING
  • 201 Times